Die tydsberekening vir die vrystelling van Die Groot Storieboek Avontuur kon beswaarlik meer perfek wees. Vandag, op Wêreldboekedag, is dit ideaal om te lees oor boeke en ’n biblioteek, wat mos hoeka stalmaats is.
Talia is ’n boekwurm en haar gunsteling plek is die skoolbiblioteek. Dit was nou voordat ’n nuwe bibliotekaresse, juffrou Krummel, aangestel is. Nou is die biblioteek ’n plek van verskrikking. Weg is die vreedsame atmosfeer, boeke word verniel en rakke is nie meer netjies en georden nie.
Hierdie oulike verhaal slaan sommer baie vlieë met een klap. Lesers kom agter presies hoe ’n ideale biblioteek moet funksioneer, maar meer nog, word die verskillende genres wat gewild is by kinders, deur middel van die storie verduidelik. Dink oudioboeke, grafiese romans, fantasie en avontuurverhale.
Daar is natuurlik ook ’n boelie betrokke, maar daar word met simpatie gekyk na die rede vir sy gemene optrede. Outisme, verwagtinge van ouers, selfde-geslag ouers en ander moderne tendense word aangeraak. Selfs die kwessie van disleksie, en die spesiale boeke vir diegene wat sukkel om te lees, kom ter sprake. Die Groot Storieboek Avontuur is ’n voorbeeld van Vriendelike boeke, met onder andere met leesbare lettertipes en spesiale papier.
Die betekenis van nuwe woorde visueel beklemtoon sodat dit lyk soos ’n stukkie papier uit ’n notaboek. Dit maak deel uit van die besondere illustrasies deur Nadia du Plessis. Die slim teks is die werk van skrywer, Kristien Potgieter.
Dit is ook in Engels beskikbaar as The Great Storybook Heist, en is geskik vir leser van 9 jaar en ouer.