Immer Wes, Mentje, kind van Pas-op-kamp, en ten slotte, Na ’n Plaas in Afrika, is ’n boeiende oorlogstrilogie. Elke aflewering getuig van deeglike navorsing en kennis van die onderwerp, sowel as die uitsonderlike skryfvaardigheid van Irma Joubert.
“Waar lê die heldedaad? By die een wat gesterf het en alles onafgehandel agtergelaat het? Of by die een wat hardnekkig bly klou aan sy trots en alles waarskynlik verloor?” (p.65 e-boek) Hierdie, en ander diep vraagstukke, ontbering en lewensverlies, word intensief oopgeskryf in Na ’n plaas in Afrika.
’n Stukkie humor hier en daar, is ’n goeie teenvoeter vir swaarmoedigheid. Daar was die kinders in Eaglesham wat ’n tuisgemaakte bom prakseer wat chaos veroorsaak, Twee tieners se lomp poging om ’n baba se doek te ruil, het my letterlik trane laat lag.
Wat my veral beïndruk het was die knap en ongeforseerde wyse waarop die skrywer die karakters uit die vorige twee boeke in die reeks, uiteindelik saambring op die betrokke plaas in Duitswes. Selfs karakters uit vorige reekse maak weer ’n draai, soos Pérsomi uit die Pontenilo-reeks, wat hier ’n belangrike rol vervul. Daar is selfs sinvolle verwysings na Kobus Neethling en sy jonger sussie, Gretl, die oorlogswesie en Kate en Bernard Neethling. Dit was soos om ou vriende weer raak te loop. Ek kan verstaan waarom dit vir Irma Joubert gevoel het asof die karakters in haar huis gewoon het.
Met hierdie reeks nou finaal vir my afgesluit, sien ek uit na Rebekka van Kameeldoringplaas, wat eersdaags op die rakke sal wees. Irma Jouberts se oorlogsromans word uitgegee deur Lapa Uitgewers.