Juanita Aggenbach se boeke lyk almal vir my bekend vanweë treffende buiteblaaie, maar ek glo nie ek het al enige daarvan gelees nie. Toe ek haar vyfde roman, Liewer as lig, begin lees, was daar geen twyfel dat dit stewig staan in die geestelike fiksie genre nie.
Daar word nie geskimp oor geloofsake soos wedergeboorte nie, dit word by die naam genoem. Onderwerpe wat van altyd af twispunte is in kerkgeledere, soos grootdoop versus kinderdoop, gebruik van sterk drank en die immer-aanvegbare rookgewoonte, kom draai in die storielyn oor Schalk en Leah se lewe. Tekste uit die Bybel word selektief aangehaal en Schalk se gesprekke met die Vader is ’n perfekte weergawe van sy stryd en oorwinnings.
Schalk, ’n advokaat, en Leah, ’n hoërskoolonderwyseres, lewe welvarend en hard. Dit is vir hulle nie ongewoon om ná ’n kuier met vriende, erg kroes wakker te word nie. ’n Kollega van Schalk is ’n uitgesproke Christen en sy voorbeeld begin vir Schalk aanspreek; soveel so dat hy by die Here uitkom. Leah is egter in totale verset teen die nuwe Schalk en weier om saam met hom Bybel te lees.
Die verhaal onderstreep dat om die Here te volg jou nie gaan vrywaar van probleme nie. Daar is nie noodwendig kitsoplossings vir probleme soos finansies nie. Dit mag nodig wees om onvoorwaardelik te vergewe en indringend te kyk na prioriteite.
Liewer as lig lees maklik – dank aan die uitgewer, Lux Verbi (geestelike druknaam van Jonathan Ball Uitgewers) vir die lettertipe wat sag is op die oog. Klein letters en digte spasiëring word vir my al hoe moeiliker om te hanteer. Ek kan dit aanbeveel vir ander met dieselfde dilemma.