Die titel van Elsa Winckler se nuwe roman, ’n Ierse knoop, vat die essensie van die storielyn baie goed vas. Neem vier Ierse broers, voeg daarby vier aantreklike, intelligente vriendinne, en jy het die resep vir ’n stewige romantiese knoop. Volgens tradisie het ’n Ierse knoop (Celtic cross) oneindige lyne wat vervleg sodat die onderskeid vervaag, inderdaad wat gebeur wanneer die O’Connor broers vinnig elkeen sy gunsteling vind onder die vier dames wat hulle voorgenome ontwikkeling in Fynbosbaai teëstaan.
“Ierse stories het selde ’n happy ending.” (p.153) Al die broers deel Liam se fatalistiese siening oor verhoudings, voortspruitend uit die voorbeeld van hulle ouers se huwelik. Dit spreek dus vanself dat daar oorgenoeg konflik gaan wees namate die vier verhoudings sukkel om op dreef te kom. Voeg verder daarby, afdreiging, perlemoenstropery en onopgeloste verdwynings.
Ek het die boek begin lees met die verwagting dat één van die broers ’n volatiele verhouding gaan aanknoop met één van die vriendinne, wat ’n reeks sou impliseer. Die skrywer het egter verras deur vier komplekse verhoudings te skep in een boek. Dit het uiteraard uitdagings gestel met agt hoofkarakters wat om die beurt fokaliseer. ’n Paar foute het ongelukkig deurgeglip, maar aanhangers sal steeds lekker kan lees en tevrede wees met die tradisionele gelukkige einde.
’n Ierse knoop is uitgegee deur Lapa, ’n afdeling van Penguin Random House SA.