Ek is ’n sterk aanhanger van die werk van René van Zyl, maar ek moet bieg dat ek nogal gesukkel het om vat te kry aan Niekie Rabie. “Hoekom laat sy wat Niekie is, haar so maklik deur almal misbruik? Het sy so ’n vreeslike behoefte aan liefde of aandag?” (p.38) Maar toegegee, die minderwaardigheid van die hoofkarakter is juis die spil waar rondom die redelik unieke storielyn draai.
Niekie, wat haarself ag as ’n raaf in die geselskap van arende, leef van kindsbeen af in die skaduwee van haar ekstroverte suster, nou ’n suksesvolle aktrise. Sy laat toe dat sy konstant, as Irene se assistent, op die agtergrond gedwing word. “Sy is regtig gebreek. Tweedehands, verniel en op die ashoop gelos.” (p.73)
Die milieu is interessant: ’n rolprentstel, kompleet met al die binnewerkinge van rolprentvervaardiging. Dit is dan ook die sterk manlike hoofkarakter en akteur, Ruhan, wat die uitdaging aanvaar om Niekie te oorreed om te droom na te jaag en in haarself te begin glo.
Die skrywer navigeer met vaardigheid en gemak die moeilike vaarwater waardeur Niekie worstel. Tot enkele bladsye voor die slot, moet die leser wag vir die bevredigende, gelukkige einde.
Voëls van enerse vere is ’n Romanza uit die stal van Lapa Uitgewers.