Chanette Paul het laasnag my slaap gesteel en vanoggend my aandag gekaap. Met groot genoegdoening kan ek sê dat die intriges van die Sheldons, Meyers en Volkwyns nou ontrafel is. Hoewel ek nog lank sal kan tob, want hierdie verhaal het soveel diepte en genoeg karakters om ’n lywige karakterlys en ’n stamboom voor in die boek te regverdig – wat ek inderdaad geraadpleeg het.
Zabeth Meyer kom midde van ’n storm en oorstromings in Kronkelrivier aan om navorsing te doen vir ’n nuwe boek van krimiskrywer, Wilbur Sheldon. En dit is bepaald nie die laaste storm wat losbreek op die Sheldonlandgoed nie. Die drama het ’n kort speelvak, van 21 Oktober tot 8 November, maar is volgepak met spannende gebeure en moeilike interpersoonlike verhoudings. Die voorgeskiedenis van die karakters en die onderskeie families, kompleet met sterftes wat nooit verklaar is nie, word soomloos by die gebeure ingewerk. Dit verseker dat die lesers deurentyd betrokke bly. Die epiloog, een jaar later, rond hierdie besondere stuk werk perfek af.
Dit bly vir my fassinerend hoe ’n skrywer soos Chanette Paul so ’n magdom van inligting kan versamel en interessant aanbied, los punte bymekaarbring, subtiele wenke laat en die leser en ook die karakters op baie dwaalspore lei. Déjà vu is ’n puik voorbeeld van al die bogenoemde. Dit staan wydsbeen oor ’n paar genres en sal ’n wye spektrum van lesersmake kan bevredig.
Die boek is uitgegee deur Lapa Uitgewers, ’n afdeling van Penguin Random House SA